top of page

         Uitgawe 1

19 September 2016

Sommer net 'n lekker stukkie geskiedenis

Springbok Internet Radio sien die lig op 27 Augustus 2013.

Die span bestaan uit 3 eienaars nl. Wilna , Len en Danie  en 12 lojale omroepers.  Ons programme is vir oud en jonk, dag of nag -  of jy nou ver of naby bly. Natuurlik is ons Auto DJ altyd gereed om die vloer te neem indien daar nie lewendige uitsendings is nie.  In die 3 jaar se bestaan het Springbok Internet Radio gegroei tot 'n baie bekende en geliefde Internet Radio stasie wat mense regoor die wêreld geniet.

Ons luisteraars is ons trots en ons is verseker 'n stasie met hoë standaarde en Christelike waardes. Kunstenaars kry baie blootstelling deur met hulle onderhoude te voer asook hulle met hulle musiek aan die luisteraars regoor die wêreld bekend te stel.  Ons besef dat luisteraars oorkant die waters soms uitgehonger is na musiek uit ons pragtige land.

 

In ons kletskamer is daar heerlike interaksie met ons omroepers tydens lewendige uitsendings. Sluit gerus aan en geniet dit saam met ons by Springbok IRC.

 

Ons poog om betrokke by die gemeenskap te wees en daar word jaarliks 'n fees of twee gehou om uit te reik na die gemeenskap.

Ons vriendelike bemarkingspan is altyd gereed met die beste diens en pryse vir advertensies indien jy belangstel om te adverteer.

 

Almal is welkom om hulle te kontak.

Bestuur       - info@springbokinternetradio.co.za

Bemarking  - bemarking@springbokinternetradio.co.za

Indien jy belangstel om deel te word en in te skakel by ons radio is daar skakels waar jy kan gaan luister op jou rekenaar sowel as op tablette en selfone. Gaan besoek gerus ons webwerf en soek die skakels wat by jou behoefte gaan pas. Ons belowe jou jy gaan nie spyt wees nie. Dit raak verslawend.

 

Met ons Hemelse Vader as anker en rots, is daar geen beperking tot ons strewe nie...

                                    Optredes en nuus oor kunstenaars in Suid Afrika             

   Ons plaas graag optredes van kunstenaars sodat almal kan sien waar die optredes is en dit kan bywoon as julle lus het

Kom ondersteun asb hierdie fantastiese geleentheid om kinders in nood te help! Stephan Visagie Bianca Lombard Fan Page Michelle Louw Vernon Muso Peter Weisz Katryn Lize Visser gaan ook daar wees om dit 'n onvergeetlike aand te maak! Kry julle kaartjies by Computicket van die 1ste September af.

Nicky de Kock

Op Sondagaand (4 September 2016) het Danie 'n gesprek gehad met Keagan Rossouw op sy program Deo Gloria.

Wat 'n aangename verrassing. Keagan is slegs 8 jaar oud en is gebore met Fanconi Anemia.

As gevolg hiervan kon hy glad nie hoor nie. Sy lewe het totaal verander toe hy sy BAHA gehoortoestel ontvang. Sy liefde vir musiek het vlamgevat en hy het begin om sy passie vir musiek uit te leef. Hy het sy eerste liedjie

onlangs vrygestel. Gaan kyk gerus na sy video https://youtu.be/uS82iYZaYEE.

Hy was  baie gemaklik met die gesprek en die luiseraars het hom ongelooflik geniet. Hy was vol grappies en so selfversekerd dat hy in almal se harte gekruip het. Ons wens Keagan alle voorspoed toe met sy sangloopbaan.

Bernie Williams

Bernie Williams het onlangs sy nuwe cd vrygestel "Give me one more shot"  Kontak Bernie gerus op fb as julle 'n cd wil aanskaf. Ek was bevoorreg om een te kon kry en kan dit regtig aanbeveel. Hierdie video is een van die snitte op die nuwe cd

Manie Jackson se nuwe cd is beskikbaar. Manie Jackson in duet met ons Legendes. Op hierdie cd sing hy saam met Lance James, Barbara Ray, Joanna Field, Bles Bridges en vele meer. Nog 'n cd wat 'n MOET is in jou versameling. Die cd is reeds op die winkels se rakke beskikbaar

Manie Jackson

Ek hou nog steeds daarvan om die liefde van my lewe te bederf! As sy laat werk in die aand, dan bel sy my en sê sy is oppad! Dan tap ek lekker warm water met skuim solank in, sodat, as sy instap, sy dadelik kan begin om die skottelgoed te was.

Artikels

Sjoe!! Dit reën al vir 3 dae by ons.... Al wat my skoonma doen is deur die venster staar.... As dit so aangaan , sal ek haar seker moet laat in kom!

Heerlike Resepte

Springbok Internet Radio het  'n eie Springbok Kombuis program. Elke Woensdag tussen 19h00 en 19h30 is dit ons hoofkok Salome Boshoff wat die program aanbied waarin sy vir ons heerlike watertand resepte deurgee wat getoets is. Moet dit nie mis as jy lief is vir kosmaak nie.

Springbok Kombuis het ook 'n eie resepteblad op Springbok Internet Radio se website sowel as 'n eie fb groep met die naam Springbok Kombuis.

Indien jy 'n resep soek gaan loer gerus na die twee blaaie en indien jy dit nie vind nie kan jy Salome kontak sy help graag. Haar e pos adres is resepte@springbokinternetradio.co.za.

Elke jaar aan die begin van September, as die bome begin bot, word ons herinner aan hoe besonders bome is en daar word ’n boom van die jaar aangewys. Vanjaar is dit die beurt van die gewone wildevy of wurgvy (Ficus thonningii).

’n Paar interessante feite

Daar is meer as 850 soorte ficus-bome in die wêreld, en bome met eetbare vye is deel van dié familie. Die Ficus thonningii is ’n besonder groot, inheemse boom wat dié tyd van die jaar begin vruggies dra en so voëls lok. Hierdie ficus het ’n baie aggressiewe wortelstelsel en moenie naby ’n gebou of swembad geplant word nie.  Dis immergroen en lyk veral mooi in groot oop stadsruimtes, soos op die plein voor Kaapstad se stasie. Jy kan dit suksesvol in ’n pot plant en op jou stoep of patio sit, of ’n klein boompie gebruik vir bonsai-kuns.

Algemene wenke vir die plant van ’n boom

Spit ’n groot gat van ten minste 1 meter diep. Vul dit met genoeg goeie kompos en ’n hand vol beenmeel. Verwyder die plastieksak waarin die boom geplant is en maak die wortels effe los. Plaas in gat en vul met grond. Maak goed nat. Sorg dat die boom goed nat bly tot die wortels gevestig is.

Bron: Sarie

Boom van die jaar

Die Sinus Seisoen

Die koue is verby en die son word met n glimlag verwelkom.

Skielik word die swembaddens blou en die bikini's wag.

MAAR.... Dit is ook tyd wat almal hoes en proes.

Jy loop met n dik kop sonder dat jy n druppel gedrink het.

Jy huil sonder dat jy hartseer is. Wat op aarde is fout???

JY, liewe leser het hooikoors wat sinus aanvalle veroorsaak.

Hierdie seisoen bring mee vir al die bytjies om met blommetjies te begin werk.

Die stuifmeel is oral in die lug soos wat die diere, mense en wind dit ronddra.

Die winterstof in jou gordyne en pakkamers is een groot sondebok.

Vermy plekke waar stof opgaar. Haal deur jou mond asem in die buitelug.

Daar is ook middels oor die apteek toonbank verkrygbaar wat verligting bring.

Byt vas,dit is van korte duur.

Sagte snesie groete vir almal.....

Water krisis

Die reën is skaars en ons damme is droog. Beperkings op water word ingestel

Hier is ń paar wenke hoe om te bespaar:

1. Herstel alle krane wat lek.

2. Stort eerder voor jy bad.

3. Maak toe jou kraan terwyl jy tande borsel.

4. Herlei bad en skottelgoed water na jou tuin en groente toe.

5. Vang altyd die water op indien dit wel reën.

6. Indien jy die voertuig moet was, doen dit op die gras.

7. Vervang jou stortkop met ń lae druk kop.

8. Maak plante nat in laat middag.

9. Gebruik vinnige siklus op wasmasjien.

10. Vermy skottelgoed wasmasjien.

Water is kosbaar en is ń lewensvereiste. Gebruik met sorg.

Deurbraak teen gevreesde Alzheimer

 

’n Teenmiddel wat die sigbare tekens van Alzheimer feitlik geheel en al kan uitwis, is deur wetenskaplikes ontdek, en het die mediese wêreld letterlik aan die gons oor die deurbraak.

Navorsers het die brein van verskeie mense wat reeds met die siektetoestand gepla is, begin behandel met die teenmiddel.

Pasiënte in die ouderdom tot 100 jaar wat tekens van die toestand getoon het, is suksesvol behandel

’n Jaar na die behandeling was feitlik al die “toksiese proteïen plaak” wat opgebou het wat Alzheimer veroorsaak, totaal weg van die pasiënt se brein indien hulle die maksimum moontlike dosis toegedien is.

Die wetenskaplikes sê in ’n verklaring die nuus is feitlik te goed om waar te wees, maar erken ook dat die plaak wat vorm, klaarblyklik net gedeeltelik verantwoordelik is vir die Alzheimer by die pasiënt.

Die lewenstyl van mense het ook ’n rol te speel, soos om geen oefeninge te doen nie en totaal onaktief te word.

Siektetoestande soos diabete en hoë bloeddruk word ook beskou as moontlike bydraende oorsake.

Wetenskaplikes meen die teenmiddel kan moontlik as voorkomende behandeling toegedien word by mense in ’n bepaalde ouderdomsgroep of by diegene wat die eerste tekens daarvan toon.

Die middel is in drie verskillende kategorieë van pasiënte gebruik, en die groep wat die maksimum dosis gekry het, se plaak was feitlik geheel en al verwyder uit die brein.

Dr James Pickett, hoof van die Alzheimer Vereniging sê die middel en die verslag wat opgestel is, is die mees omvattende en suksesvolste in resultate wat tot nou toe gelewer is, en beteken dat die stryd teen die siekte tot ’n mate oorwin word.

Bron: Vryburger - Sept 2016

Mense en troeteldiere

Het jy ook al gewonder waarom sommige mense mal is oor diere? Onlangs het ek gelees hulle het navorsing oor dit gedoen en daar het verskeie redes opgeduik waarom mense graag troeteldiere aanhou. Nadat ek dit self gelees het het ek met 'n groot glimlag op my gesig gesit en besef dat alles werklik sin maak.

Stel jou voor as jy by die huis kom en oormoeg is van die dag se harde werk en jou hond of kat kan nie gou genoeg opvlieg op jou te verwelkom nie. Gewoonlik so vol liefde en vol vreugde van blydskap net om jou te sien.

Die slim mense beweer ook dat blootstelling aan troeteldiere in jou vormingsjare jou immuunstelsel versterk. Nou of dit waar is weet ek nie maar ek gaan nie die kans vat om sieklik te wees nie so as ek kon kies sou ek maar geluister het en diertjies aangehou het.

Wanneer jy met jou honde gaan stap gee dit jou kans om jouself fikser te stap en gesonder te leef. Sommer so op jou uitstappie maak jy dalk nuwe vriende met ander mense wat stap met hulle hond of honde.  As die honde vriende met die ander honde maak mag jy dalk ook nuwe vriende maak, maar as hulle grom onthou asseblief honde voel aan as mense nie vriendelike mense is nie so hou verby en doen die fiksword ding eerder as om te staan en probeer gesels.

Mense wat eensaam is kan groot voordele uit 'n vriendskap met 'n troeteldier put.  Dink net hoe lekker jy met jou kat of hond kan gesels.  Hulle is uitstekende luisteraars en praat nooit uit oor dit wat hulle hoor nie.  Hulle oordeel ook nooit.  Hulle liefde is opreg en lojaal teenoor jou.

Navorsing het ook bewys dat jou stresvlakke baie afneem as jy gereelde interaksie met jou troeteldier het. Dink daaroor en probeer dit, selfs as jy nog nie die gevoel van 'n warm dierelyfie teen jou gevoel het nie.  Indien jy nog nie 'n troeteldiertjie het nie, skaf een aan want die voordele is baie meer as die nadele.

DIE GROOT TREK.......

Dit is weer sulke tyd en vir een of ander rede moet jy verhuis.

Jou moed sak in jou skoene en jy sak sommer in n stoel neer.

Jy onthou hoe jy met die vorige trek 'n hele week of 10 na alles gesoek het.....

Hier is n paar wenke wat jou trek seepglad sal laat verloop

1. Kies jou vervoer maatskappy met verwysings.

2. Merk al jou bokse met nommers.

3. Skryf n lys waarin jy elke inhoud langs die betrokke boks nommer skryf.

  (Sodoende weet jy presies waar alles verpak is en geen bokse kan wegraak nie.)

4. Pak n tassie soos jy n naweektas sal pak. Sit ook 'n laken, toiletpapier en handoek in.

5. Sodra die werkers die meubels af laai, vra hul om direk die beddens in kamers te sit sodat

jy nie nodig het om rond te skarrel as jy doodmoeg is nie.

6. Pak ook n piekniek mandjie waar jy koffie, suiker en melk in sit.

7. Merk n boks met die woord belangrik waar jy die volgende in sit:

    Gordyn hakkies en wieletjies

    Tang

    Hamer

    Asblik sakke

    Skoonmaak middels

8. Mens is geneig om elke betrokke boks in sy vertrek te sit dit vat baie tyd.

 

Laat al jou bokse in een vertrek sit en begin by die eerste een en pak hom uit.

 Glo my, jy sal sien, in n japtrap is al jou bokse uitgepak.

Hierdie paar punte maak n groot verskil.

"HAPPY MOVING"

        Kan jy nog onthou?

​Jy leer baie in die skool, maar vir sekere dinge bly ervaring die beste leermeester. En hiervoor kry jy kosbare raad by mense wat jou inspireer ...

As kind het ons almal op een of ander stadium gewens om grootmens te wees. Ons kon nie wag om uit ons ouerhuise te trek en selfonderhoudend te wees nie.  Vanaf die ouderdom 16 begin mens al hoe meer ernstig dink oor hoe dit gaan voel om jou eie geldjie te verdien en jou eie stempel af te druk. Ons begin droom hoe dit gaan voel om in hierdie pragplekkie in te trek en dit jou "eie" te noem.

Dan breek daardie groot "dag" aan wanneer jy klaar gematrikuleer het of klaar met universiteit of kollege is en die wêreld lê skielik voor jou oop.  Met gemengde gevoelens besef jy skielik jy is nou "daar" waar jy al so lank oor droom. Deel binne jou is baie opgewonde en deel van jou is effens skrikkerig.  Skielik die onbekende wat voorlê.  Die opgewondenheid begin die vrees oorwin en jy besef dis 'n nuwe uitdaging wat voorlê

Daardie eerste jaar of wat verander dinge gedurig om jou.  Nuwe betrekking, nuwe woonplek en skielik besef jy dat om jou eie potjie te krap, is nie net maanskyn en rose nie.  Dis dan wanneer jy begin verlang na ma se kos en Pa se ondersteuning en raad. Vorentoe sal jy nog baie verlang na jou sorglose jare in jou ouerhuis, maar jy besef daar is nie nou terugdraai nie, dis nou kop lig en vorentoe. Dis dan wat jy besef dat jy baie geleer het in die skool maar dat lewenservaring die beste leermeester ooit is.

Omring jouself dus deur positiewe mense sodat jy positief kan reageer op elke ding wat gebeur in jou lewe .  Ek glo dat almal hulleself sal herken in hierdie staaltjie

Bestel vandag nog jou cd:  bemarking@springbokinternetradio.co.za

@ R100 plus posgeld

Wat is n OUMA

Ouma's is regtig baie slim. Want hul weet net wat ek wil he.

Mamma is ook baie bang vir Ouma want sy sê altyd, as jy jou Ouma sê dan brand jou boud.

Ouma's kan nie horlosie lees nie, maar dis ok want ek kan enige tyd koekies kry.

Ouma's het ook BAIE geld want hulle koop altyd vir my iets.

Ouma's se hare is spierwit. En Ouma sê dis my Ma se skuld

Ek weet nie hoekom nie want Mamma is nie ń haarkapster nie.

Ouma's is baie bang want ek moet altyd saam haar winkel toe gaan, maar dit

Is lekker want Mamma sê nie altyd ja nie

Ouma's kan ook nie mooi sien nie want hul knyp altyd my wange vas om presies

te weet waar my lippe is vir ń soentjie.

Ekke is baie lief vir my Ouma....

Hierdie spasie is gereserveer vir JOU                      advertensie

Vir meer inligting....

bottom of page