top of page

     Uitgawe 4

31 Oktober 2016

Hierdie spasie is gereserveer vir JOU                      advertensie

Vir meer inligting....

Met trots stel ons elke week een van ons omroepers bekend

Ontmoet hierdie week vir Wilna

Wilna (Wilna Springbok Irc) is een van die eienaars en bestuurders van Springbok internet Radio.  Sy het grootgeword op 'n plaas op Toitskraal in die Marble Hall distrik waar haar ouers geboer het. Vandag nog is sy in hart en siel 'n plaaskind . Sy woon sedert 2006 in Abu Dhabi in die United Arab Emirates

Wilna begin Augustus 2013 by Springbok Internet Radio as omroepster en skakelbeampte werk. Later word sy aangestel as assistent bestuurder van die stasie en in 2014 word sy mede eienaar van die radiostasie.

As skakelbeampte reël sy alle onderhoude op die stasie en sien toe dat dinge glad verloop met die administratiewe gedeelte van die radio. Sy het 'n verskeidenheid van programme wat sy aanbied. Op Maandae bied sy saam met Danie "Eros" aan tussen 20h00 en 22h00. 'n Program wat oor liefde en verhoudings gaan. Woensdae is sy behulpsaam met die Top 20 wat deur Danie aangebied word. Vrydagaande saai sy saam met Danie Funky Friday uit tussen 20h00 en 22h00. Funky Friday is 'n program waar luisteraars se versoeke gespeel word. Saterdae bied Wilna "Balke Toe" aan wat vanaf 17h00 tot 18h00 heerlike boeremusiek speel. Sondagaande vanaf 18h00 - 19h30 is tyd vir "Lofprysingsuur". 'n Gospel program waar sy stukkies uit die Woord deel.  Daarna sluit Wilna die aand direk na deo Gloria af met Klassieke melodieë. 'n Program wat uit klassieke, instrumentele musiek en rustige musiek bestaan. Sy geniet elke uitsending en het 'n passie vir die werk wat sy doen op die radio. 

Stokperdjies:  Naaldwerk, loodglaswerk, bak en brou

Gunsteling kos:  Seekos

Gunsteling kleur:  Smarag groen en aardse kleure (o ja en ligblou "Bloubul blou" )

Gunsteling drankie:  Water

Gunsteling vakansieplekke:  Bosveld

Wilna geniet die radio en leef haarself uit wanneer sy op die lug is en lag soms vir haar eie blapse wat sy aanvang op die lug.  Dink nie daar is al iets wat haar nog nie oorgekom het op die lug nie.

Indien jy graag by Wilna se facebook wil aansluit kan jy gerus 'n versoek stuur na Wilna Springbok Irc

Enige navrae kan aan Wilna gerig word betreffende die radio

                             Optredes en nuus oor kunstenaars in Suid Afrika             

   Ons plaas graag optredes van kunstenaars sodat almal kan sien waar die optredes is en dit kan bywoon as julle lus het

Con Grazia - Kosmos

Mediaverklaring:                                                                                                      

Anders, dinamies, veelsydig, grasieus en elegant. Dit is die stempel van die trio Con Grazia! Dié -susterstrio – Marchelle, Syntiche en Sharon – se vaardigheid het al op driejarige ouderdom begin toe hulle hul harmonieuse styl begin blink slyp het.

Die susters se inspirasie en aanmoediging het by hul ma, Priscilla, ‘n musiekonderwyseres, begin en hulle het gereeld as ‘n familie saam met pa en ma in kerke opgetree. Con Grazia is ‘n Italiaanse musiekterm vir “elegant & grasieus” en  word uitgespreek: “Con Gratsia”.

Hul musikale vaardigheid en vernuf spruit uit hul kwalifikasies: Bmus-grade, musiekteater, spesialislisen-

siate en internasionale opleiding aan onder meer UNISA, die Trinity College of Music en die Royal Schools of Music in Londen. Hulle was onder meer lede van die Pro Musica-orkes, die Johannesburgse Simfonieorkes, die Oos-Randse Jeugkoor, as soliste saam met die Nasionale Simfonie-orkes en die Orchestre Supérieur de Versailles in Frankryk.

As wenners van die ATKV se Prelude-musiekkompetisie én die ABSA Nasionale Musiek-kompetisie en internasionale erkenning is Con Grazia die vergestalting van professionele suiwerheid met ‘n passie vir hul nering.

 

Hul musikale veelsydigheid blink in die genres klassieke, ligte klassieke style,  kontemporêre musiek, versnit met Latynse, Afrika-, jazz- en gospelinvloede.  Hul musikaliteit en vokale vaardigheid word gekomplementeer deur die viool, elektriese viool, fluit, sopraan– en altsaxofoon.
 

Hul optredes word gekenmerk aan vertolkingswier. Dié gehalte is al by spoggeleenthede in Suid-Afrika, Dubai, Abu Dhabi, Frankryk,  die Seychelle, België, Holland en Engeland ten toon gestel.

Nou kan musiekliefhebbers in hul ontroerende talent deel, danksy VONK-Musiek se uitreiking van die prag-album Kosmos. Die album word saam met  ‘n prentjiemooi DVD met musiekvideos van die dertien oorspronklike nuutskeppings – uit die pen van Emil Struwig (skrywer van Heinz Winckler se treffer 1001 Soene) en Con Grazia - uitgereik.
 

Dié luisterryke produksie - in samewerking met Bruce Wallace (wat meegewerk het aan oor die 50 goue en platinumplate vir van die land se gewildste kunstenaars) van Beat in Time Studios, verwerkings deur Francois Lessing  (medeverwerker van Corlea Botha se lied Swart koffie) en DVD-verfilming deur Dolf Brits Studio - is gestempel met orkestrale grootsheid en ‘n Afrikaanse kontemporêre gevoel. Die skoonheid en opwinding van die liefde word in die snitte Vlerke van liefde, Jy’s die een, Kom ons dans, Vier seisoene, Wees net myne, Die gejaag na wind, Ware liefde, Groter as liefde, Val Die Vie, Kosmos en drie instrumentale werke Song For You (gekomponeer deur Syntiche Claassen en Johan Kelber)en verwerkings van Hungarian Dance en Elvira Madigan verklank - romanties in ‘n geurige ruiker gerangskik.

                  Ervaar stylvolle musikale elegansie en ‘n tikkie briljansie! Dit is wat Con Grazia bied!

NIEL SOMERS

NEIL SOMERS
Ses jaar na sy eerste CD, is Neil Somers terug met ’n splinternuwe album, Hierdie Hande, wat beslis gaan opslae maak in die musiekwêreld. Sy diep stem is die perfekte pasmaat vir elke sielvolle liriek... en die eindresultaat is hoendervleismooi. 

Neil Somers, met sy strelende fluweelstem, het beslis geen bekendstelling nodig in musiekkringe nie. Oor die afgelope paar jaar is van sy werk nie net met TEMPO-benoemings vereer nie, maar treffers soos Anderkant Atlantis en Sinnelose Lente is ook vriendelik deur radiostasies en die publiek ontvang. 

Wanneer jy die nuwe album luister kan jy duidelik die sorg en moeite hoor wat die afgelope twee jaar aan die beplanning en verwerking van Hierdie Hande bestee is. Dit spog met dertien oorspronklike snitte en is die perfekte kombinasie tussen roerende hartsmusiek en lighartige kuiermusiek. Eendag op ’n Reëndag, die nuwe enkelsnit wat pas vrygestel is, is ook reeds ’n gunsteling onder luisteraars regoor die land. 

Neil beskou dié CD as die hoogtepunt van sy loopbaan en beskryf dit as ’n Afrikaanse Komtemporêre Folk Rock-album, met ’n bietjie Pop hier en daar. “Alles wat voorheen gebeur het, was net om my voor te berei vir die hier en nou. Hierdie is sover die grootste oomblik van my loopbaan en die musiek wat ek vir hierdie album gekies het, is my beste,” sê hy. 

DIE MAN AGTER DIE STEM
Neil is ʼn gebore musikant en is vandat hy kan onthou versot op sing. “Musiek is al deel van my lewe vandat ek kon praat en was nog altyd in my bloed. My musikaliteit kom van my pa se kant af. Hy is passievol oor musiek en speel kitaar, baskitaar en was ook al lid van verskeie orkeste. My pa het my ook die basiese beginsels geleer van kitaarspeel, waarna ek dit self verder op gehoor bemeester het. Vandag speel ek ook akoestiese kitaar en die bekfluitjie.” 

Alhoewel hy sy hele lewe lank doenig was met aktiwiteite soos revue, Universiteite Sêr en selfs lid was van die Hoëveld Kinderkoor, het hy eers in 2003 begin naam maak toe sy ma hom ingeskryf het vir ’n sangkompetisie in Jeffreysbaai. Hy het die kompetisie gewen en toe finaal besef dat sy toekoms in musiek lê en nie in Siviele Ingenieurswese, wat hy op daardie stadium besig was om te studeer nie. Hy het toe sy studies gestaak, as kroegman begin werk, en in restaurante begin optree.Sy paaie het met die liedjieskrywer, Kobus Bezuidenhout, laat kruis wat later die hoof-liriekeskrywer sou word van sy debuutalbum. 

Omdat hy graag meer ondervinding in die musiekbedryf wou hê, het hy Pretoria toe getrek en daar in verskeie klubs, kroeë en restaurante gesing totdat hy in 2007 genooi is om by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees op te tree. Daar het Adam Tas een van sy liedjies gehoor en wou dit graag self opneem, wat weer later vir Neil gehelp het om sy eerste platekontrak los te slaan.

Sedertdien het hy al die verhoog gedeel met van die land se grootste kunstenaars soos Koos Kombuis, Dozi, Theuns Jordaan, Robbie Wessels, Bok van Blerk, Lianie May, Hugo, Kurt Darren en vele meer en kon hy dit regkry om die harte van gehore regoor die land te verower.

As jy uitvis oor die man agter die mooi stem, verklap hy dat hy ’n reguit mens is wat ’n ding sê soos hy is en nie hou van aansitterigheid nie. Hy beskou kunstenaars, wat al lank in die bedryf is en suksesvol bly, as ’n inspirasie en het veral waardering vir sangers soos Riana Nel, Elvis Blue en Theuns Jordaan se musiek. “Ek hou van enige musiek of liedjie wat my oor vang, hetsy dit die lirieke of sommer net die wysie is. Enige soort musiek moet jou kan inspireer, maar ek het ’n baie sagte plek vir ’n goeie Country-liedjie - veral die ouer classics soos Don Williams, Johnny Cash en Kris Kristofferson want hulle treffers vertel stories,” sê hy. 

As hy nie ’n sanger was nie, sou hy graag ’n sielkundige wou word, sodat hy almal kan help om hulle hartsake en probleme uit te sorteer... Maar vir nou verower hierdie talentvolle sanger eers die harte van die publiek, media en sy mede-kunstenaars met sy unieke talent, wat nie net strelend is op die oor nie, maar ook trefkrag het in die siel.

Volg hom op:
Facebook: https://www.facebook.com/pages/Neil-Somers/128036245754
Twitter: @somersneil
vir toerbesonderhede en nuus

Vir besprekings en navrae, skakel 071 678 7770 of 072 214 4590
stuur ook gerus ’n e-pos na somersneil2@gmail.com
of
info@vocalevents.co.za 

VIR MEER INLIGTING OOR DIE ALBUM, KONTAK ASSEBLIEF VIR
Christien de Klerk: Christien.DeKlerk@umusic.com

VIDEOS VAN DIE WEEK

Andriette Norman - Flower of Scotland

En so steel sy harte van oral oor. Flower of  Scotland was vir haar een groot uitdaging. Natuurlik een groot sukses. Hoe noem haar bewonderaars die? HOENDERVLEIS MOOI...

Kurt Darren - Kaalvoet sokkie

Die liedjie het beslis almal aan die sokkie, kaalvoet of te nie. Dit is natuurlik ook die liedjie uit die rolprent Sal jy met my dans.

Die liedjie en baie meer is ook beskikbaar op itunes

Jannie  kyk hoe sy tannie poeier op haar baba gooi.

Jannie:  ‘Tannie moenie sleg voel nie, ons hond het ook vlooie.’

ARTIKELS

HOEKOM STAAN 17 BLONDES BUITE DIE KROEG EN WAG?
WANT HULLE MOET 18 WEES OM IN TE KAN GAAN.

Bespaar met Inkopies

Waar is die dae wat almal as een groot familie kon gaan kruideniers doen?

Lank vergete mense, lankal. Met vandag se pryse kan mens nie anders as om die sente vele kere om te draai nie. Kruideniers maak vandag die grootste deel van mens se begroting uit. Die pryse is hoër en die inhoud van items kleiner. Hier is 'n paar wenke wat kan help om bietjie meer te kan bespaar...

1. Moet nooit op 'n leë maag gaan inkopies doen nie.

2. Maak altyd 'n lysie en moenie daarvan afwyk nie.

3. Maak dubbel seker van pryse. Soms is pryse verkeerd.

4. Kyk altyd na die pryse van die agterste item, ou voorraad is goedkoper.

5. Probeer om slegs een keer per maand inkopies te doen.

6. Die sogenoemde "no name brands"is baie goed. Daar is regtig niks met die verkeerd nie. Dit is maar net 'n goedkoper verpakking om jou geld te spaar. 

Wyse woorde van my Moeder.....Soek vir die goedkoper item, hy is daar.

Die sensitiewe punt !!!!!

Almal van ons kan nie wag om die volgende dieet brousel te probeer nie. Of dit nou nuwe pille of inspuiting of 'n stropie is, ons gee nie om nie. Ons wil net kyk hoe ons sommer vinnig so 10kg in 'n dag kan afskud. Ons verstand praat so hard met ons maar luister is min. Ons betaal ten duurste vir die brousels sonder om te besef wat se skade ons regtig aan ons liggame doen nie. Onthou asseblief dat beslis nie in een dag die gewiggies opgetel het nie. Hoe op aarde kan jy verwag om in een dag soveel gewig te verloor. Nou sit die verkoper daar buite en slyp hul tande want hul weet dat ons desperaat is. Dames gaan sit 'n oomblik stil en dink. Wat is die beste en gesonde manier om gewig te verloor? Gesonde leefstyl met gereelde oefening is die enigste manier wat kan werk. Daardie middels wat almal so mal is oor, gaan jou liggaam groot skade doen. Jou lewer en niere moet die grootste ""hammering"vat. En die skade wat daar gedoen word is onherstelbaar. Voordat jy enige dieet aanpak moet jy eers jou geneesheer spreek sodat hy jou eers kan ondersoek. 'n Dieetkundige is natuurlik die regte pad om te stap. Die regte kosse word met jou bespreek en jy word ook behoorlik gemonitor. Los daardie ongesonde middels en begin vandag werk aan die nuwe gesonde JY.........

Langste brug ter wêreld – van glas?

 

In Sjina is die langste voetbrug in die wêreld gebou, maar die konstruksie is van glas, wat mense met hoogtevrees ietwat onkant vang.

Die brug is geopen vir die publiek, maar mense met erge hoogtevrees kan hulleself geld spaar deur nie die brug te besoek wat op plekke tot 300 meter bokant moederaarde hang nie.

Die grasbrug wat 430 meter lank is, hang tussen twee bergtoppe in ’n natuurreservaat in die Hunan provinsie.

Die ses meter breë brug is ontwerp deur die argitek Haim Doran, en bestaan uit 99 glasplate wat sowat 800 mense gelyktydig kan dra.

Benewens die vreemde gevoel om oor die brug te stap, is daar ook geleentheid vir die waaghalsige besoekers om ’n reksprong (bungee) te neem.

Die besoekers word egter beperk tot 8 000 per dag, en met ’n toelating van sowat 18 euro per persoon, behoort die brug mettertyd vir sy vervaardiging en oprigting te betaal.

Om mense te oortuig van die brug se veiligheid, is verslaggewers van koerante genooi om die brug te besoek, en elkeen is met ’n hamer toegerus wat hulle kon gebruik om die glaspanele mee te kap.

Tydens die opening van die brug is ’n motor met vier insittendes oor na die ander kant om mense te oortuig dat alles wel veilig is.

August 23, 2016 - Wetenskap en tegnologie

Die wêreld se grootste lugskip

Die grootste lugskip van die wêreld is nie net ’n lugskip nie, dit is ook ’n vliegtuig met besondere eienskappe.

Die “Airlander 10” is ’n gevaarte wat soos die Zeppelin van weleer, die besondere eienskap het om massief groot te wees en lank in die lug kan bly.

Hierdie tuig is ook die langste vliegtuig wat ooit die lugruim in gestuur is, en het die vermoë om sowat vyf dae lank in die lug te blly.

Die eerste model sal eersdaags sy eerste toetsvlug ondergaan wanneer die massiewe vliegtuig in Brittanje getoets word.

Die Britte van Hybrid Air Vehicles glo die Airlander 10 gaan nie net veel minder geraas maak as ander vliegtuie nie, maar gaan ook veel minder lugbesoedeling veroorsaak.

Die logge tuig van 92 meter lank, en 26 meter hoog, laat enige mens na ’n dwergie voel as jy nader stap om die tuig te bestyg.

Die vervaardigers hoop om 12 van die lug reuse jaarliks te bou vir die burgerlike lugvaart bedryf.

Tjellis van Hermanus by La Scala

‘n Jong tjellis van Suid-Afrika, Tobias Kotzé (25) is as hooftjellis by die Simfonie-orkes van die La Scalateater in Milaan, Italië aangestel.

Kotzé, ‘n boorling van Hermanus het saam met 40 internasionale kandidate om die pos meegeding. Boonop het hy sy onderhoude in Italiaans gedoen.

Die beroemde operasangeres Maria Callas het die grootste invloed op hom uitgeoefen in sy besluit om musiek sy loopbaan te maak.

Callas het groot roem aan die teater verwerf.

Hy het eers op 13-jarige ouderdom begin tjello speel en het sy BMus-graad aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf.

Om deel van die La Scala-teatergeselskap te word, moes hy in Italiaans ‘n onderhoud voer en ‘n oudisie aflê waarin hy ondermeer 12 orkesuittreksels moes speel.

Hy studeer tans vir sy meestersgraad aan die Conservatorio della Svizzera Italiana in Lugano, Switserland.

Kultuur en Kuns

WAARSKUWING!!!

Amper vakansietyd en vir die van julle wat see toe gaan, kyk gerus na die prentjie. Dit kan jou lewe red. Jy kan so ook iemand anders se lewe red. Gehoorsaam altyd die lewensredders se vlae, fluitjies en sirenes. Dit is daar vir 'n rede. 

Diere en Vuurwerke

Dit is weer tyd vir pragtige vuurwerk vertonings. Hoe helderder en harder hoe mooier. Derduisende Rande word gemors op vuurwerke. Dit is nie net geldmors nie maar ook baie gevaarlik en ook teen die wet. Geen persoon mag meer net vuurwerke afvuur in enige gebied nie. Hoë boetes word uitgereik teen dit. Maar die swartmark buit die mense uit en almal val daarvoor. Nou kom die groot vraag.....Wat van die arme diere wat so verwilderd raak in die proses? Terwyl ander mense 'n vrolike nuwe jaar vier of selfs oor Kerstyd, moet baie van ons rond skarrel om die diere tot bedaring te bring. Soveel diere word ernstig beseer in hul poging om van die gevaar te vlug. Dierehospitale is letterlik op bystand om die vreeslike gevalle te kan behandel. Hier is 'n paar wenke om te help om jou diere kalm te hou.

1. Laat jou diere in die huis kom sodat hul naby jou is.

2. Sit musiek aan, dit help om die klap geluide uit te fasseer.

3. Praat met hulle asof daar niks fout is nie.

4. Jy kan ook vir hulle 'treats' byderhand hou.

5. Moenie gebruik maak van susmiddels wat vir mense voorgeskryf is nie. 

6. Jy kan ook met jou veearts praat indien die probleem baie erg is. Hul sal vir jou die korrekte middel gee om die dier kalm te hou.

7. Jy kan natuurlik ook die SAP in kennis stel van oortreders. Jou viervoet kind het nodig om te weet day jy hom beskerm soos wat hy jou sal beskerm.

Robot buite aksie op Mars

Uit beelde wat deur die Amerikaanse Mars Agentskap vrygestel is, blyk dit of die Europese Marslander Schiaparelli wel verlede Woensdag op die Rooi Planeet geland het, maar nie op die wyse wat beplan is nie.

Dit wil lyk asof die robot eerder neergestort en daarna dalk ontplof het, of moontlik teen ’n rots gebots het terwyl dit neer gedaal het.

Alhoewel dit hoofsaaklik bespiegelings is oor wat moontlik gebeur het, sê die Europese Ruimtevaart Buro ESA dat dit jammer is, maar hulle probeer nog vasstel wat werklik gebeur het te midde van die aanvanklike mening dat die landing volgens plan plaasgevind het.

Die swak beeldmateriaal wat ontvang word, maak dit moeilik om presies te bepaal wat gebeur het. Die robot en sy valskerm is moeilik identifiseerbaar op die beeldmateriaal en wetenskaplikes werk onverpoos voort om te probeer bepaal wat die rede is waarom die robot nie die verwagte seine na die moederskip stuur wat om Mars wentel nie.

Voorlopige waarnemings wys dat die robot dalk te vinnig neergedaal het, en kon dalk teen ’n spoed van 300 km per uur teen die grond gebots het.

Dit kan beteken dat die swaartekrag van die planeet dalk veel groter is as wat bereken is, en gevolglik is die valskerm nie groot genoeg om die “val” stadiger te maak nie.

Dit blyk dus dat die sending nie suksesvol was nie, en ’n tweede poging aangewend moet word.

Samsung selfone word onttrek

 

Mense wat in besit is van ’n Samsung Galaxy 7 selfoon, behoort terug te gaan na die verskaffer om ’n geld terug eis in te stel.

Dit is die mening van ’n tegnoloog nadat dit bekend geword het dat die spesifieke model van Samsung ernstige probleme gee.

Die Suid-Koreaanse vervaardiger se probleme bly onopgelos en verdiep selfs nadat die reuse maatskappy verplig was om sy Galaxy 7 model van die mark te onttrek.

Die selfoon wat op ’n onverwagse tyd kan begin om rook af te skei, en dan letterlik ontplof, het talle eienaars in ernstige situasies laat beland, waarvan minstens een geval ’n vliegtuigreis vertraag het.

Maandag het Samsung besluit om die vervaardiging van die Galaxy 7 te staak, al was dit bemark as die mees gevorderde slimfoon op die mark.

Die Samsung maatskappy het intussen sowat 2,5 miljoen van die bepaalde model teruggeroep toe verskeie kliënte dieselfde probleem ondervind het.

October 11, 2016 - Wetenskap en tegnologie

FAST, kyk vêr!

 

China het onlangs die grootste radioteleskoop in die wêreld in werking gestel na maande se konstruksie. Die $180-miljoen projek, bekend as Fast, se skerm beslaan die oppervlakte van dertig voetbalvelde en strek oor etlike heuwels in die suidweste van Sjina, waar 10 000 mense verskuif moes word.

Die teleskoop sal in staat wees om die verste tot nou toe in die ruimte te “kyk” en het reeds met ‘n ster kontak gemaak wat eenduisend ligjare van die aarde af is. Sjina het te kenne gegee dat hulle met Fast meer oor die heelal wil uitvind en ook na lewe in die heelal wil soek.

October 3, 2016 - Wetenskap en tegnologie

Bottergeel songesigte vir ‘n vrolike tuin

Sonneblomplante is in die familie Asteraceae en die genus is Helianthus

Ons ken almal die Transvaal- en Vrystaatse sonneblomlande in die somer. Ons weet hoe pragtig vertoon dit. Dit aard mos so goed in hierdie dele van die land en as die son nie warm genoeg is nie, draai dit mos die blomkoppe na die son en dan lyk dit soos ‘n klomp bottergeel gesiggies wat in ‘n spesifieke rigting kyk.

Sonneblomme kan enige tyd van die vroeglente tot middel somer gesaai word. Hulle groei vinnig. Sonneblomplante groei redelik hoog en dig opmekaar. Dit kan tot 3 meter hoog groei. Die stele is lank, grof en harig. Die blare is groot en grof en ook harig en getand met duidelike are. Die blomme groei bo-aan die stingel en is swaar met ‘n ry of twee helder bottergeel blaartjies wat op ‘n groen blarebed groei. Die groot ronde binnekant is vol swart sade en ons almal weet dis ‘n lekkerny vir ons papegaaie.

Die sonneblom is een van die wêreld se belangrikste oliegewasse. Daar word beweer dat dit in Peru ontstaan het, maar sommige historici glo die oorsprong is eintlik Mexico. Oorspronklik is die wortels van die plant geëet en later is die sade gerooster en gebreek om die heerlike binnekant van die saad bloot te stel. Olie word van die ryp sade gemaak. Dit is vandag ons sonneblom kookolie wat meer as enige ander olie in die gaarmaak van kos gebruik word.

Het u geweet dat die kroonblare van die sonneblomme eetbaar is? Dit word reeds lankal as medisyne gebruik vir die herstel van die weefsel in die niere na nierstene en vir allerhande nierkwale. Van die ongepelde sade kan ook ‘n tee gemaak word deur twee eetlepels ongepelde saad in twee koppies water vir 20 minute te kook, dit te laat koud word en dan deur ‘n siffie te gooi. Drink dit twee maal per dag vir ekstra vitamine en minerale. Natuurlik weet ons hoe heerlik is gepelde saad in gesondheidsbrood en beskuit. Daar word ook beweer dat tee ook van sonneblomblare gemaak kan word en dit is goed vir malaria.

Ons kan gerus ‘n sonneblom of twee in ons tuin plant sodra dit lente is. Dis so pragtig. Dit sal veral teen ‘n sonnige heining aan die agterkant van ‘n blombedding aard. Dit moet in volson geplant word en gee oorvloedig kompos. Druk die sade 2 cm diep en 30 cm uitmekaar in die klam grond. Gee genoeg water na die saad geplant is en moenie dat dit uitdroog nie. Die saad ontkiem vinnig en dit groei ook vinnig.

Geniet die geel gesiggies in u tuin.

 

 

Bron: Huis en haard

Gemmer, merkwaardige plant en spesery wat ons almal ken

 

Almal van ons gebruik gemmer nogal gereeld. Dis so veelsydig en word oral in die wêreld gebruik as spesery en ook as ‘n plant in die tuin of potte. Gemmerplante is in die familie Zingiberaceae en die rang is Zingiberales en die spesie is Z.officinale. Die botaniese naam is Zingiber officinale.

Gemmerplante groei van ‘n gemmerwortel en ‘n lang sterk stingel groei direk uit hierdie wortel bokant die grond. Die stingel laat mens aan riete dink. Gemmer, borrie en kardamom behoort aan dieselfde familie. Gemmer kom oorspronklik van die tropiese reënwoude in Suid-Asië. Die grootste verbruikers van gemmer was die Romeine.

Gemmerplante produseer trosse wit/pienk en geel/pienk ritse blomme wat aan die bokant van die lang stingel groei. Dit groei baie goed in warm tropiese klimate en word ook in die tropiese gebiede as ornamentele plante geplant. Dit is ‘n meerjarige rietagtige plant met lang gepunte blare. Die blare wil ons amper aan mielieblare laat dink.

Gemmer skei ‘n warm aromatiese geur af en mens ruik sommer speserye indien dit gebruik word in gebak, koeldranke en om mee te kook. Dit kan in kookwater getrek word om ‘n tee te maak en ons ken almal tuisgemaakte gemmerbier.

Volwasse gemmerwortel is baie veselagtig en omtrent droog. Jong gemmerwortel is sappig en vlesig en hul is nie so sterk geurig soos volwasse gemmerwortel nie. In Japan word gemmerwortel soos piekels ingelê. Ons ken dit meestal gerasper in kerriegeregte en oosterse kosdisse. Gemmer het groot medisinale waarde en help vir naarheid, verkoues, en vele meer kwale. In sekere lande gebruik ook die vars blare van die gemmerplant in hulle geregte.

Die 100 gram fyn gemmer is die algemeenste vorm van gebruik in gebak. Gemmer veroorsaak oor die algemeen geen allergiese reaksies nie. Onthou egter altyd dat u u geneesheer moet raadpleeg alvorens u enige kruie en speserye as medikasie wil gebruik.  Gemmer bevat baie vitamiene en minerale wat goed is vir ons gesondh

Gemmerplante is ongelukkig geneig om slordig te raak omdat hulle so hoog groei en die stingels is swaar en val om en breek af. Dit vertoon egter mooi en kan in potte geplant word en dit verkies vol son en warm vogtige klimate.

Tuiniers, geniet u tuin en mag u mildelike reën ontvang indien dit nog nie by u gereën het nie.

October 24, 2016 - Huis en Haard

Hierdie spasie is gereserveer vir JOU                      advertensie

Vir meer inligting....

bottom of page